top of page

RUBRIEK: 'N AFRIKAANSE BRIEF VIR JOU VANUIT DUITSLAND


VAALNEWSREAD. - Alexander Mickel se brief word gepubliseer net soos hy dit gestuur het. Die brief is nie geredigeer nie.

Liewe vriende van Afrikaans

My naam is Alexander Mickel. Ek is ʼn Duitser wat besig is om Afrikaans te leer. Ek het van die Russiese studente gelees wat Afrikaans studeer. Ek is ʼn bietjie jaloers dat hulle die moontlikheid het om Afrikaans te studeer :-). Sover ek weet is daar nie Afrikaanse departemente in Duitsland nie en formele onderrig is skaars beskikbaar. Vir my is dit ʼn baie oulike taal wat ek met ʼn groot toewyding leer sonder om ooit ʼn formele onderrig te gehad het! Ek weet nie eens of ek ooit Suid-Afrika toe kan gaan om die taal in haar tuiste toe te pas nie. Nogtans is ek besig met die taal – my Engels het amper “verdwyn”, omdat ek so baie besig is met Afrikaans en ek dink dit spreek boekdele. Daar is geen dag sonder Afrikaans by my nie.

Baie dankie vir Maroela Media dat ek die kans gekry het om ʼn bietjie van my belewenisse te vertel. Dis nou my Afrikaanse droom:

Ek het begin Afrikaans leer uit Engelse oefenboeke. Daar was ongelukkig niks in Duits beskikbaar vir my nie. En ek het probeer baie lees. My Afrikaans het beter geraak; tekste kon ek gou goed verstaan. Toe koop ek my eerste Afrikaanse boek “Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag” deur Fransjohan Pretorius. Ek het vir hom geskryf hoe lekker dit is om sy boek te lees en dat ek baie goed verstaan. Dit was vir hom ʼn groot verrassing om so ʼn e-pos uit Duitsland te kry. Hy het geskryf hy wil graag my e-pos aan die hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns stuur. Toe besluit hulle om my brief in die Akademie se nuusbrief te publiseer (Nuusbrief van Sept. en Des. 2014). As julle belangstel in hierdie nuusbrief, kontak asseblief vir Nellie Engelbrecht by akademie@akademie.co.za. Hulle het my vroeëre kontakbesonderhede gepubliseer en ek kon ʼn mooi terugvoer ontvang van Akademielede wat my brief gelees het.

Ek kon nogal met Hermann Giliomee kontak maak, want ek het onder meer sy boek Die Afrikaners gelees! Toe soek ek na wetenskaplike artikels om woorde te leer met betrekking tot my vak (biologie). Ek het vir iemand geskryf wat in SATNT (Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie) gepubliseer het en sy stuur dit aan die SATNT se ‘Publishing Title Operations Coordinator’ wat die hele brief aan die redakteur Prof Kobus Maree stuur wat toe my e-pos na die Akademieraad stuur en uiteindelik het dit weer by my uitgekom. Dit was baie snaaks en daardie dag was regtig wonderlik. Ek moes vinnig besef dit maak nie saak wat ek doen nie, ek sal altyd by die Akademie uitkom :-). Toe vind ek Rina Loader wat in Wenen Afrikaans doseer. Sy het ʼn grammatikaboek vir my gestuur en toe bied sy aan om oefeninge na te lees. Dis als so kosbaar vir my en ek waardeer dit ontsettend baie.

Daar het orals bande van vriendskap ontstaan. Al die mense skryf Afrikaans vir my asof dit mý moedertaal is! Hulle stel my gereeld bloot aan sekere idiome en vaste uitdrukkings. As ek sekere dinge nie verstaan het nie, verduidelik hulle met graagte wat dit beteken. Dit help my om dié mense en hulle taal te leer ken. Ek sien hoe ryk, snaaks en soms hoe kwesbaar Afrikaans is. Ek het aan mense en hulle taal geheg geraak. En dis net dié wat dit spesiaal maak. ʼn Taal is niks sonder die mense wat dit praat nie. Ek leer nie net die taal nie, ek is ook besig met die mense. Afrikaans het so ʼn deel van my lewe geword. Mense sien dit raak hoe baie ek belang stel. Ek het baie oulike en dierbare mense leer ken. Ek het ʼn reusagtige hulpvaardigheid leer ken. Ek het ʼn deel van ʼn gemeenskap geword en ons lag ook te lekker oor my kwinkslae of foute wat soms snaaks is.

En ek het baie pret met die taal. Het julle geweet Afrikaans bevat woorde wat in my Duitse dialek aangetref word? Die Duitse woord vir “emmer” is “Eimer”, maar in my dialek sê ek “Emmer”. “Traktor” is die Duitse woord vir trekker. Wat dink julle wat sal ek sê? Heeltemal in die kol! “Trecker”! My Engelse en Duitse e-posse bevat Afrikaanse woorde en ek moet altyd drie keer lees voordat ek iets stuur! Duitsers wonder beslis daaroor hoekom skryf ek “kosbaar” in plek van “kostbar”. Of ek gebruik ʼn tweede ‘nie’; die mense dink beslis ek is heeltemal mal! Ek bevorder ook die taal op ʼn piepklein skaal ;-). As ek haarkapper toe gaan en geld vir die meisie gee, sê sy soms “dankie” vir my (sy weet dit laat my glimlag) en een keer het sy “Beie Danki” op die kwitansie geskryf (sy skryf dit soos sy dit gehoor het) en toe lag ons te lekker. Sy het laas probeer “pragtig” sê – was baie snaaks!

Ek wil graag my brief afsluit deur ʼn paar bemoedigende woorde te sê. Ek wil graag mense aanmoedig om hulle eie woorde te gebruik om te sê wat hulle dink of voel. Op die internet kom ʼn mens uit by sekere frases: Afrikaans is hierdie en Afrikaans is daardie. Ja, dis reg, maar dis herhalend, kunsmatig en dis stilstand en ons wil dit nie hê nie! As iets inflasionêr gebruik word, sal ʼn tyd kom waar hulle niks meer werd is nie. Afrikaans is meer as ʼn klomp mooi herhalings! Verwoord eie indrukke! Wees individueel! Vertel jou storie! En as ʼn mens in hierdie geval in staat is om iemand se hartstaal te gebruik, word presies hierdie baie kosbaar en ʼn mens gaan die mense op ʼn ander vlak bereik. In daardie oomblik word ‘n band tussen mense gesmee. En dan behoort dit ook nie belangrik te wees of daar foute is of nie. My Afrikaans is darem ook nie veronderstel dat dit foutloos is nie. Maar ek is seker my Afrikaans sal al die mense bereik wat my toelaat om by hulle harte uit te kom.

Beste wense vanuit Duitsland, Alex

https://maroelamedia.co.za/debat/briewe/n-afrikaanse-brief-vir-jou-uit-duitsland/


Who's Behind Website
Recommended Reading

The Croyez literary Award

Zalman S. Davis

F&Z Arts Academy 

Search By Tags
No tags yet.
Follow VAALNEWSREAD
  • Facebook Basic Black
bottom of page