top of page

Kortverhaal: Vaalrivier


VAALNEWSREAD. - VAALRIVIER deur Sybie Kleynhans*

Traanoog is die alleenvrees vlak in jou hart, is die herinneringe besig om jou siel te versmoor? Los alles, trek gemaklike skoene aan, vat my linkerhand en stap saam met my. Ons stap deur kuit-kieliegras van Potch tot daar waar die Vaalrivier sy pad oopwater.

Kom ons gaan sit rugsteun teen die stam van ‘n wilgerboom, dan nestel jy in my linkerskouer, rus jou kop op my bors en laat my stem jou wegvoer. Laat ek jou gedagtes op my rug abba, jou drome in my kous druk en jou eensaamheid in my oë vassweis.

Kyk na die dansende blaarhare van die wilger, na die vinknessies wat wals in die ligte trooswindjie. Kyk deur my oë na die rooivinkmannetjie as hy onderstebo aan die nessie se oopdeurkosyn hang. Kyk stip. Kyk met jou siel en verstaan met jou hart, sien die trots op sy skerpgesiggie. Sien die rykdom in die fladder van sy vlerke as hy ‘n stukkie kos vir ‘n skreeuende oopbekkie gee. Kyk mooi, hy’t geen beursie, geen kredietkaart of tjekboek nie, maar sy huis is kontant en betaal. Dis gebou met die tegniek, die kennis van die Skepper. Sien die dankbaarheid in die saamsmelt prag van sy vere, luister na die lied van ‘n honger kuiken as hy sy kossie wydbek ontvang.

Laat jou oë sak en kyk na die vaalbruin waters as dit kabbelend oor blinkbruin rotse spoelvloei, skuimlippe maak teen versplinterde klippe en malend see se koers toe verdwyn. Luister fyn en kyk skerp en sien hoe die borrels tussen die riete roer, dalk sien jy die blink van ‘n baber se vel as dit rigtingloos deur die rietheining vroetel. Miskien sal hy vrolik met sy snorbaard vir jou wuif en groet.

Sit langs my op die droë rots, maar laat ek eers buk en jou skoene uittrek. Laat hang nou jou voete af sodat die koel waters dit kan soen. Kyk, daar in die vlak poeletjie dartel ‘n paar wees-vissies, byna deurskynend klein. Daar half onder ‘n klip skuil ‘n krap. Hy staar ons verbaas met vuurhoutjie-oë aan voordat dit koekmakranka-skeef dieper uit sig kruie. Hou mooi dop waar die waters by die saagtand-rotse breek en effens na benede stort. Kyk hoe goudblink is die geelvis as dit uit die water boog en sierlik in die vaalbruin waterland verdwyn. Hoor hoe die vreugde jou hartvat en ore benewel as die visarend se roep oor die water en tussen die bome deur skeur.

Leun teen my bors en ek vertel jou ‘n storie, ‘n kamma-sprokie - ‘n droomstorie.

Eendag, eendag baie sonsaktye gelede was daar ‘n kluisenaar. Sy hare en baard was lank en met sout beprinkel. Soms was daar ‘n hink in sy stap, soms was dit ligvoets soos dié van‘n jagter. Vir dae lank sou jy hom nie te siene kry nie, ander tye het hy op daardie hoë plat rots gesit. Kaalvoet, stukkende en gelapte klere, maar skoon gewas deur die Vaalrivier se sagte lewensbloed. Stil sou hy daar sit met ‘n pen en ‘n A4 skryfblok in sy hande. Mense het bakhand gefluister en grootoog geloer na die kluisenaar. Hulle het in die bosse geskuil as hy in ‘n sagte stem praat, met die Vaal- en sy bewoners praat, vir hulle stories lees en soms gedigte in die wind strooi.

Stories en gedigte oor die seer en eensaamheid van vandag, stories en gedigte oor die lag en liefde van gister. Dan luister hulle verstom na die woorde wat uit sy mond sluip, luister verwonderd as hy vertel van die lag en liefde in sy lewe. Hulle staan eerbiedig stil as sy stem traanwoorde huil, sien die weerloosheid en aanvaarding in die bruin van sy oë en in die skewe glimlag as hy die Vaal groet en in die ruigtes verdwyn.

Hulle sien hoe die ondergaande son die traanstrepe oor sy wange aan die brand steek en rookloos in die lower van die grysbaard verdwyn.Voordat die bosse hom insluk kyk hulle mooi na hom, sien die erosielyne van roekeloosheid, die kreukels van gesneuwelde vreugde en lag. Kyk hoe die geel van sy geelbruin oë verdwyn as hy vir die rivier en sy bure lag, sien die honger en hartseer in daardie sagte oë. Onthou sy woorde en lag saam, lag in jou siel saam. Groet hom met jou hart en onthou hom met jou asem.

“Wat is sy naam? Wat is hierdie kluisenaar se naam?” fluister jy teen my bors.

“Wat sy regte naam is weet ek nie, niemand weet nie. Die mense noem hom die woordbarbaar, die swartes noem hom die leeu van die Vaal.”

“Hoekom lewe hy so, waarom?”

“Niemand weet nie, niemand gee om nie. Want sy woorde en sy versies is al wat saak maak, niemand wil regtig weet nie.”

In die vaalrooigreep van die dag se dood, skreeuroep die visarend … vraend en soekend.

Maar die Vaalrivier is stil, baie stil.

*Sybie Kleynhans is gebore op Kleynhansrust, distrik van Kroonstad op 4 Maart 1951 waar hy opgegroei het en sy skoolloopbaan in Kroonstad voltooi het. Hy het reeds as kind die pen opgeneem en kortverhale en gedigte begin skryf, tot vermaak van vele familie en vriende. Sybie, ook bekend as Baardman, Baardbek, Leeuman is ’n skrywer en digter van formaat en kom elke woord uit sy hart, hetsy van mens of dier. Sybie het sy eerste boek, Dieregiere en Goggageite in 2013 gepubliseer. In Maart 2015 het Madefu se Wêreld die lig gesien en later dieselfde jaar is ook sy unieke digbundel, Splinters uit my hart, gepubliseer. Gedurende Oktober 2015 is die roman Thola vrygestel en daarna ware staaltjies uit sy verlede, Gister se Pad, in Oktober 2016. In Desember 2016 het Sybie dan ook ‘n CD uitgebring waarop kortverhale en gedigte verskyn (Versamelwerke van Sybie Kleynhans.) Sybie Koningin en die Kluisenaar en ander kortverhale is gepubliseer in Mei 2017 en Madefu en Maats in Desember 2017. Sy bundel van Maandagoggendstories “Want ek is”, is tans in druk en beoog hy om binnekort ‘n verdere bundel van verskeidenheid van gedigte vry te stel.


Who's Behind Website
Recommended Reading

The Croyez literary Award

Zalman S. Davis

F&Z Arts Academy 

Search By Tags
No tags yet.
Follow VAALNEWSREAD
  • Facebook Basic Black
bottom of page